Glendine, ‘n boorling van Namibië, is in 1966 gebore. Haar talent word vroeg raakgesien en in die hoërskool word haar werk gekeur vir die Santam Kinderkuns-kompetisie wat wêreldwyd toer. Sy studeer skone kunste aan Pretoria Technikon. In 1987 neem sy deel aan Atelier en ABSA groepuitstallings. Sy hou solo uitstallings in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en Hartbeespoort. Gedurende 2000 stal sy op uitnodiging uit in New York. Glendine se styl is ekspressionisties. Haar landskappe herinner aan die uitgestrekte ooptes van Namibië. Leë kerke, breëstoep opstalle, arbeidershuise en windverwaaide bome verleen ‘n eensame en nostalgiese atmosfeer aan haar werk. Soms gebruik sy spierwit ganse, parmantige hoenders en statige volstruise om die landskap te laat lewe, maar dit is werklik die effektiewe manier waarop sy kleur gebruik wat haar kunswerke lewe gee. Die stillewes is vol beweging en herinner aan Afrika met elemente soos potte, takke, tarentaalvere en olielampe. Haar romantiese stoele en lampe het ‘n bekoring van hul eie. Glendine se werk vind groot byval by verskeie Kunstefeesste – KleinKaroo, Aardklop en Innibos asook die Randse Paasskou. Haar werk word aangekoop deur verskeie handelaars en verwerf al hoe meer blootstelling en bekendheid. Glendine beskou haar talent as ‘n gawe van God en dit is vir haar ‘n voorreg om dit wat sy die meeste geniet, as haar voltydse beroep te beoefen.
|